BELANGRIK!- Dit is baie moeilik om huidiglik werk in New Zealand te kry indien jy nie oor baie goeie ondervinding, geleerdheid en 'n goeie vakrigting beskik nie. Veral in die "Skills" area. Duisende Kiwis het weens die resessie van oorsee teruggekeer na NZ en staan nou voor in die tou as dit kom by werksoek. Gewoonlik kry hulle ook dan voorkeur. Ek sou dit ten stekste aanbeveel dat mens maar liewer deur 'n immigrasie agent vir tyd en wyl moet probeer aansoek doen vir werk hier in New Zealand. Januarie 2010
Waar begin ek? - Where do I start?
LET WEL: Ek wil dit graag duidelik stel dat ek of SAKIWI.com nie immigrasie- of werksverskaffingagente is, of enigsins voorgee dat ons is nie, en dat alle strategië, inligting of enigiets op hierdie webwef op eie risiko gebruik of verwerk moet word. Ons kan geensins enige aanspreeklikheid aanvaar indien enigiets wat op hierdie webwerf staan nie presies so vir die leser realiseer nie. Hier is 'n magdom inligting en wenke - dit hang maar van jou eie omstandighede en jouself af hoe jy dit gaan gebruik. Alle persone wat verder hier lees, aanvaar bogenoemde vrywaring.
Gaan sit mooi en dink waarna jy oppad is met jou lewe, wat jy wil bereik en of jy die stamina het om werklik weer reg van voor af ‘n nuwe lewe te kan begin. Is jy bekomerd oor jou en/of jou gesin se veiligheid, julle welvaart, lewensstandaard, “Quality of Life”, en werksmoontlikhede in geheel, en sien jy kans vir ‘n nuwe kultuur waar alles vreemd vir jou gaan wees in die begin? As jy en/of jou gesin dan tot ‘n konkrete gevolgtrekking kom dat dit die enigste uitweg is vir die voorsienbare toekoms, is jy gereed vir immigrasie. Die vraag is net – is New Zealand vir jou?
Hieronder volg 3 strategieë – Lees, dink en gebruik op eie risiko.
BAIE BELANGRIK: Dit is moeilik om met een been in NZ en die ander een in SA te staan. As jy graag hiernatoe wil kom met die idee om jou permanent hier te vestig en ‘n sukses daarvan wil maak, MOET jy bereid wees om alles in die stryd te werp. Dit help nie om in jou agterkop nog steeds te dink dat as jy dit nie hier binne 3 maande maak nie, jy in elk geval nog lekker kan aangaan daar in SA. Jy gaan baie geld mors, heelwaarskynlik met ‘n wanindruk terugkeer na SA en jou huwelik mag dalk ook in die slag bly. Jy MOET voorbereid wees op tydelike terugslae. Wees gewaarsku.
Die LSD roete Soos elders genoem is hierdie benadering dalk die veiligste, sodat jyself kan sien waarvoor jy jou inlaat. Dit beteken dat jy 3-keer die oseaan sal moet oorsteek na die anderkant van die aarde indien jy hier aankom en besluit NZ is vir jou. Dit beteken ook 2 retoerkaartjies vir jou en dit mag dalk finansieel ‘n las wees. Hoe dit ookal sy, hierdie opsie gaan jou die gevoel van die land gee, voordat jy daai finale groot besluit neem.
Die Veilige roete Dit is vir die gelukkige persone wat reeds in SA werkspermitte, visas en al die lekker goeters van New Zealand gekry het, en ‘n soft landing hier kan kom maak. Sowel as die wat in SA van Immigrasiedeskundiges se hulp gebruik maak. Laasgenoemde opsie kan partykeer baie duur wees. Indien jy wel van so ‘n agent gebruik gaan maak, behoort hulle jou al die inligting te gee en jou verder te help en by te staan met al die nodige reelings.
Die Doen-dit-jouself Roete
Wat volg is meestal van toepassing op die “Doen-dit-jouself roete”
Dis wat ek dit gedoop het - Dis vir die avontuurlustige en vasberade persoon wat hom/haar ten volle oorgee aan die besluit om te kom, en daarmee saam te leef kom wat wil. Hierdie strategie kan deur enkelinge sowel as getroude paartjies gevolg word. As jy getroud is, is dit nie ongewoon vir een van die persone om agter te bly in SA en die huisverkoop, en afsluiting van al die ander dinge in SA te handteer totdat jy ‘n werkspermit het, voordat hy of sy dan by jou aansluit in NZ.
Die doen-dit-jouself roete is wanneer jy/of jy en jou familie hier aankom sonder ‘n werksoffer van ‘n dag oud. Nou is jy alleen verantwoordelik vir jou en jou gesin se toekoms en oorlewing. Baie van ons Saners hier het dit so gedoen. Hierdie opsie vereis moed, vertroue en durf en baie vooraf beplanning en genoegsame fondse. Somige mense waarsku teen hierdie opsie, maar as jy dit reg en koelkop doen is dit maklik en nie te duur nie. BELANKRIK: Hierdie strategie werk op sy beste as daar eers net een persoon oorkom, om hier te kom werksoek, werkspermit te kry, blyplek te soek ens, VOORDAT die res van die familie arriveer.
Besluit of jy werklik wil immigreer en weer van vooraf sal kan begin. Om te immigreer is om weer gebore te word. Jy sal van vooraf weer moet leer praat, loop, groei, dink en doen. Al jou netwerke in SA, vriende en familie is “missing in action” en 11 ure agter ons tyd hier. (Mens kan maar sê hulle lewe letterlik in die ‘verlede').
Jou kultuur bestaan nou slegs uit kennise of familie hier, en die All Blacks is koning in NZ. Jy gaan vir 8 ure per dag Engels praat of jou nou wil of nie. Jy sal jou eie huis moet skoonmaak, skottelgoed was, wasgoed was en stryk, tuinwerk doen, motors was ens. Hier’s nie huisbediendes nie. Jy kan wel mense huur om dit te doen vir jou as jy baie geld het - ongeveer R140.00 per uur, per afdeling. Ons wat reeds hier is besef nou dat al hierdie dinge sommer vinnig baasgeraak kan word en eintlik lekker is, as jy in ‘n span saamwerk.
Baie belangrik - Jy moet onder 55 wees en jou en jou gesin/partner se gesondheid moet goed wees.
Dis maar ‘n paar van die feite wat jy MOET WEET voordat jy hiernatoe kom. As jy nie bang is en kans sien vir al die voorafgenoemde dinge, is jy gereed vir stap 2.
Vind uit of jou beroep in aanvraag is in NZ en of jy aan die minimum standaarde en vereistes voldoen vir NZ. Dis uiters belangrik! Dit help nie net om op die vliegtuig te klim, hier aan te kom en dan te ontdek dat jy wel ‘n werk sal kan kry, maar dat daardie werk jou dalk nie ‘Permanent Residence’ sal kan gee nie, of dat jy of jou ‘Partner’ nie aan al die minimum vereistes voldoen nie. Dit beteken dat jy na 2 jaar dalk, of wanneer jou werkspermit okal verval, terug na SA gestuur sal word deur NZ immigrasie. Dis baie hartseer en tragies, ons hoor gereeld van sulke gevalle. Beplanning, beplanning, beplanning mense....
Sien minimum vereistes en standaarde vir New Zealand Hieronder:
Sien ook - Immediate Skill Shortage List en die Longterm Skill Shortage List
Asook die - Skilled Migrant list: Onder Operations Manual - AppendicesAppendice 11
Asook “Can I apply under the Skilled Migrant Category?”
Nou dat jy uitgevind het jou beroep is in aanvraag is dit nodig om te sien of jy en/of jou “pardner” se kwalifikasies aanvaar gaan word in NZ. As jy ‘n professionele beroep beoefen mag dit dalk beteken dat sal moet registreer by ‘n instansie. In elkgeval sal jy en jou vrou/man/verloofde julle kwalifikasies dalk moet laat sertifiseer deur ‘NZQA’. Dit beteken dat jou kwalifikasie op New Zealand Standaarde moet wees voordat dit in aanmerking kan kom vir immigrasiepunte of werkspermit.
Dit neem soms 2 tot 4 maande om jou kwalifikasies te laat sertifiseer, dis dus raadsaam om dit sommer lank voordat jy hiernatoe kom, vanaf SA te laat doen. Dit sal baie help indien jy ‘n New Zealandse adres, miskien jou familielid of vriend sin hier in NZ kan gebruik. Lys van kwalifikasies wat NIE deur NZQA gesertifiseer hoef te word nie -geldig vanaf 24 Julie 2007 Vir alle ander Kwalifikasies kontak NZQA direk: Kyk of jou beroep vereis dat jy by ‘n profesionele instansie sal moet registreer en of jy aanvullende eksamens in jou beroep sal moet aflê: Adresse van registrasieliggame: Wat gaan al hierdie goed by NZQA my kos?
Vind uit of jy en/of jou vrou/man/verloofde genoeg imigrasiepunte het om te kwalkifiseer vir PR. Soos voorheen genoem, is dit baie belangrik om genoeg immigrasiepunte te hê. Persone wat 140+ punte het word outomaties goedgekeur en genooi om aansoek te doen Points Indicator:
Indien jy meer as 140 punte het kan jy sommer vanuit Suid-Afrika vir PR aansoek doen. Dit gaan egter baie langer neem as wat jy hier in NZ is.
Beplan jou besoek - Let wel: Die beste tye om hier in NZ aansoek te doen vir werk is vanaf middel Maart tot ongeveer 15 Desember. NZ is met vakansie vanaf die 15e Desember tot einde Februarie, en om 'n onderhoud te kry gedurende hierdie tydperk mag dalk moeilik wees. Kry al jou dokumente in orde. Hierdie stap gaan dalk ‘n maand of twee in beslag neem, maar dit is uiters belangrig dat jy al die nodige dokumentasie by jou het voordat jy aansoek vir PR of werk doen. Hierdie dokumente kan gekry word by SA Polisie, Binnelandse sake, die Onderwysdepartement in Pretoria en ander instansies en behels: 1. ‘n Geldige paspoort vir ten minste 6 jaar het, indien nie, kry ‘n nuwe een. 2. ‘n Geldige ID. 3. “Unabridged” weergawes van al jou kwalifikasies, sertifikate, kursusse ens. (Volledige sertifikate en nie verkorte goeters nie) 4. “Unabridged” Huweliksertifikate 5. “Unabridged” Geboortesertifikate 6. Skeibrief of dokumente – aannemingsbriewe en enige ander wettige dokumente. 7. Kry ‘n Polisieklaring Sertifikaat, LET WEL - dit is net geldig vir 6 maande, so bêre dit vir laaste, dit neem ongeveer 4 - 6 weke of langer om dit in die hande te kry in Pretoria, en jy moet in SA vingerafdrukke laat maak en dit inhandig. 8. Maak seker jou SA Bestuurslisensie is geldig. Dit hou vir ‘n jaar hier voordat jy dit moet verander na ‘n NZ lisensie. Die jaar begin sodra jy voet aan wal sit hier want hulle kyk na die eerste Doeane stempel in jou paspoort. 9. Kry bewyse van jou motorversekering en ‘n “No-claim Bonus Certificate”, want jy kry lekker afslag op jou versekering hier, as jy soiets het. 10. Kry Genoeg verwysings van vriende, vorige werkgewers ens. (Alles in Engels).
BAIE BELANGRIK: maak genoeg gesertifiseerde afskrifte van al jou dokumente. Immigrasiebeamptes het deesdae die manier om jou tas te deursoek op Auckland Lughawe. So wees gewaarsku. Probeer om nie jou oorspronklike dokumente (indien enige) in jou tas saam met jou te bring as jy vir die eerste keer hier land nie. Courier dit na die adres waar jy gaan bly, of na 'n vriend of ander adres hier in NZ, twee voordat jy op die vliegtuig klim na NZ.
Dit verseker dat dit nie deur doeanebeamptes by die lughawe onderskep gaan word met die gepaartgaande ongemaklike vrae hoekom jy al hierdie dokumente nou saamgebrig het as jy dan kwansuis met vakansie is. Onthou dat wat jy doen nie onwettig is nie, maar dat onnodige vrae en aandag op jou nie juis gaan help by die lughawe nie.
Werk aan jou CV, dis baie belangrik dat jy met die eerste opslag ‘n goeie indruk maak. Elders op die webwerf is daar ‘n paar wenke vir ‘n goeie CV. Kry ‘n “Vriend” in New Zealand en begin kommunikeer. Sien Stap 10 vir redes.
Ons kan ongelukkig nie jou CV aanstuur na werkverskaffingsfirmas nie.
Hou jou CV veilig in NZ, of op jou epos adres, sodat jy dit vinnig hier kan aflaai en verwerk as dit moet.
Gaan vir ‘n tandaarts ondersoek en maak alles reg as jy kan - Tandaartse in NZ is ongelooflik duur.
Bespreek ‘n 1 jaar retoerkaatjie vir jou en later vir jou familie. BELANKRIK - Moet tog nie hier aankom met ‘n enkelkaartjie of ‘n tweeweek retoer, en dink jy gaan binne daardie tyd ‘n werksaanbod en werkspermit kry nie.
Verkoop jou huis, motors en ander bates en reel met ‘n verskeepingsagent. LET WEL: jy moet ‘n werkspermit en ‘n vaste NZ adres hê VOORDAT jy jou meubels en ander aarse besittings per see hiernatoe laat kom. Moenie net die goed hiernatoe stuur nie - jy gaan boetes betaal dat jy hop. Miskien deporteer hulle jou sommer op die koop toe ook. So dis raadaam om hierdie heel laaste te reël, en dit dalk maar te laat stoor in SA, totdat jy jou werkspermit het.
New Zealand – Auckland en verder As jy op die lughawe aankom, MOET jy 'n reisplan met hotel of akkomodasie details by jou hê as hulle jou daarna vra, of ‘n naam, telefoonnommer EN adres van ‘n vriend of familielid, selfs al het jy die vriend nog nooit met ‘n oog gesien nie. Dit is raadsaam om baie met jou vriend te kommunikeer, miskien selfs ‘n foto van hom-haar-hulle te bekom, voordat jy kom. Sodat jy genoeg weet as die doeane jou dalk sou vra. Wees verseker dat hulle wel sal BEL as hulle wil, en as jy verdag voorkom gaan hulle jou ook vra hoe jou vriend lyk, hoe gereeld julle kommunikeer, waar julle ontmoet het, hoe lank julle mekaar ken, ens so moenie lieg nie!.
Bring genoeg geld saam, maar moet tog nie verklaar dat jy R700,000 per persoon gaan spandeer op ‘n vakansie nie. Niemand gaan jou glo nie. Wat ek wil sê, is hou die balans. As jy op Auckland lughawe land, vertel doeane dat jy kom kuier by jou vriend of familielid in hierdie pragtige land. Moenie arrogant wees of aandag op jou vestig nie. Smile, geniet die ondervinding. New Zealand se doenaneamptenare is bekend vir hulle deeglikheid maar hulle is baie streng. In 99.99% van alle gevalle plaas hulle ‘n 3 maande visa op jou paspoort en jy is oppad na ‘n nuwe lewe.
Gaan bly by jou vriend of in ‘n gastehuis, verkieslik Suid-Afrikaans, (as jy gelukkig is om een wat plek het, te kan kry) – dis waar jy die regte kontakte, raad en ‘gratis advies’ gaan kry, sommer so in jou eie kultuur en taal tussen die braaivleisvuure en potjiekos geselighede. Gebruik die internet en stuur jou CV uit of kontak ons indien jy verdere hulp in hierdie verband nodig het. Dalk kan ons jou ook help in hierdie afdeling as jy eers hier is in NZ.
Moet tog asseblief GEEN KOS of PLANTE van watter aard ookal inbring nie. nie eens ‘n appel of biskuitjie of iets van die vliegtuig nie. Los maar die biltong ook by die huis – hier’s baie lekker biltong en droewors beskikbaar orals in NZ.
NUWE REEL: Neem kennis dat enige glasbottel met vloeistof soos KWV brandewyn, likeur of wyn in jou handbegasie by die lughawe op Auckland gekonfiskeer gaan word indien dit nie in jou tas verpak is nie. Dit gaan nie eers help as jy stry nie. Wees gewaarsku.
Ander wenke voor jy kom:
1. Gebruik die internet om soveel inligting as moontlik te bekom oor NZ. Lees alles wat jy oor NZ in die hande kan kry. 2. Praat met familie en vriende in NZ 3. Praat met Kiwis in SA as jy van hulle ken 4. Bring ‘n Laptop saam as jy kan. Koop sommer ‘n tweedehandse een as jy kan. Toegang tot die internet hier is baie belangrik. Die internet hier werk heelwat anders as in SA. Gewone “dail-up” is gratis, jy betaal nie vir lokale oproepe nie, so jy kan heeldag en nag vir ‘n maand aanmekaar aan-lyn wees en betaal slegs $29 of nog minder per maand vir hierdie diens. 5. Vertel vir niemand dat jy gaan “Immigreer” nie, tensy jy bereid is om vir maande deur SARS en ander instansies geoudit te wil word.Vertel jy gaan slegs vir 2 jaar in die buiteland werk. Betaal al jou uitstaande belasting voordat jy SA verlaat! 6. Maak seker dat jou bankrekening in SA in orde is, en dat jy van hieraf toegang tot dit het. As die mense in SA jou bankrekening gaan sluit na 'n jaar of wat omdat daar "geen beweging" is nie, gaan jy baie sukkel met enige pensioen of ander gelde gelde wat nog later aan jou uitbetaal moet word in SA. 7. Bring ‘n selfoon saam. 8. Reel vervoer vooraf as jy kan. 9. Bring genoeg geld saam, as jy op “die doen-dit-jouself metode” kom, en maak seker dat, indien jy nog nie ‘n werk na 3 maande gekry het nie, jy wel $6000 het, (Vir die gesin as jy hulle saambring) wat jy kan wys as jy jou Visitor’s Visa moet verleng na 9 maande. 10. Jy moet gesond wees. Wees verseker dat jy NIE makiik of GLAD NIE 'n werkspermit of PR gaan kry, as jy aan mediese probleme ly soos Suikersiekte, (HIV) AIDS, TB, Lewersiekstes, Obesity, longkwale en ander ernstige dinge nie. Moet nie eens kom as jy aan bogenoemde ly nie, want jy gaan jou geld mors en heelwaarskynlik teruggestuur word na SA.
Ok nou’s ek hier wat nou? Nou begin jou werksoek saga in erns. Sien ‘Work in NZ’ op die hoofmenu of klik hier: