Hoekom NZ?-Why NZ?

Die LSD Trip

by Admin print the content item create pdf file of the content item

Hoekom NZ? - Die LSD trip

Nee, ek's nie hoog nie, maar net aan "die anderkant" van die aarde. LSD staan vir "Look, See, Decide." Alle voornemende nuwe SA-Kiwis behoort eers so 'n trippie te doen as jy die fondse het. Baie mense sal jou 'n klomp stories kan vertel van NZ, maar dis steeds nog die beste om self te kom kyk. Voordat jy alles opgee, die hoeders en kalkoene verkoop en die Merc inruil vir geldjies, moet jy doodseker wees wat jy doen en baie belangrik, hoekom jy dit doen.

Om te immigreer, of op 'n werkspermit hier te kom woon, is nie maklik nie. Glo my. As jy die stamina en deursettingsvermoe het om te volhard, wag daar 'n baie veilige, opwindende en menswaardige nuwe lewe vir jou en/of jou gesin in hierdie pragtige land.

Wat volg is my eie LSD ondervinding.


Ek het op die 9e Junie 2004 vir die eerste hier in Auckland geland. Reg in die hartjie van die winter. Alleen, onseker van wat ek gaan kry en met vooropgestelde idees van wat ek kan kry, het ek die stryd aangepak. Dit was ongeveer 12:00 die nag, en die windjie het verbete probeer om deur my goed gepanserde mondering te dring. Ek was oppad na 'n dorp genaamd Cambridge so 20 km van Hamilton af.

Hamilton is die grootste binnelandse stad in New Zealand met ongeveer 130 000 inwoners. En sowat 130km vanaf Auckland na die Suide. Cambridge is so ongeveer 20km verder Suid van Hamilton. Na 'n lekker nagrus by 'n B&B naby die lughawe ($60), het 'n famielielid my kom optel en het ons die pad Cambridge toe aangepak. Dit was nogal 'n groot kultuurskok wat ek vir die eerste keer hier gevind, gesien en ervaar het.

Waars die reen?
Almal het my gewaarsku dat ek nou na 'n land oppad is waar dit dag en nag reen en vrek koud is. Ons sien hoeka mos altyd op TV die Super 14 rugbywedstryde en dit reen mos aanmekaar. Wel, dit was 'n fris lekker bloulug sonskynoggend wat my gegroet het. Dit reen in die winter hier, maar ek moes eers 5 dae wag voordat ek dit gesien het. En as dit reen, skyn die son weer net so vinnig as wat dit gereen het.

Oppad ry ons by 'n winkelsentrum in, ja hier is winketsentrums orals. party groot, party ultra groot en ander klein. Amper net soos in Suid Afrika. Jy kry miskien nie orals die East Rand Malls of Sandton Cities nie, maar ek kan nie se dat ek dit juis gemis het nie. Die Kiwis spandeer eerder hul tyd op die strande, of in woude, parke of in die berge, of orals waar daar iets saam met die famielie in die buitelug gedoen kan word.

Ek koop toe daar 'n Vodafone starter pack vir $45 met $20 se geselstyd. Jy druk die simkaart in jou foon en vergeet van pinkodes passwords etc en dit werk. Dit het my vir die maand gehou wat ek hier was. Alle landlyn oproepe is gratis in jou area. Telkom sal stuipe kry as hulle soiets in SA moet implimenteer. Soos ons deur die sentrum loop verstom ek my aan die wye voedselkeuses en ander goedere. Daar is soveel om van te kies dat jy heeltemal deurmekaar raak. Sommige produkte het tot 30 plus alternatiewe keuses. Enige vrou se droom, en my vrou het my vermoede later bevestig.

Dis groen

So ver as wat ons ry groet die groen landskap my. Alles is silwerskoon, so asof iemand elke oggend 'n kam geneem het en die landskap effe geborsel het.



As jy in die winter hier aankom van SA af, is die vaal droe lang grasvelde van die Hoeveld en Vrystaat nog diep in jou geheue. Die voorstede lyk almal anders, party het "Weather Board" huise, my vrou noem dit take-away huise. Dit is gebou van hout en staan op pilaartjies, partykeer word so 'n huis met 'n groot vragmotor opgetel en dan weer op 'n ander plek neergesit.

Daar is kombinasies van hout en steen huise en ander is moderne huise soos ons dit ken. Die eerste ding wat 'n blywende indruk op my gemaak het was die afwesigheid van diefwering, groot staalhekke, 12 voet mure, elektriese heinings en doringdraad. Hier en daar sal jy 'n lae muurtjie met 'n hek sien, en dit is slegs om honde binne te hou. Geen honde mag hier op straat aleen loop nie.


Cambridge

Ek het maar 'n sagte plekkie vir Cambridge, miskien is dit omdat ek hier vir 'n maand gewoon het en hier vir die eerste keer, met die plattelandse allerdaagse Kiwi op hulle vlak, kennis gemaak het.
Cambridge is 'n pragtige 'n klein dorpie met 16 000 inwoners, Dit is ook 'n toeriste aantreklikheid, en SH1 (State Higway) neem jou hierdeur oppad na die Suide.



Van die grootse perdeteelers in NZ is in die Cambridge area gesetel. Daar is selfs 'n standbeeld van 2 perde op die plein en orals op die sypaadjies is daar afbeeldings in mosaiek en brons van beroemde Cambridge perde.


My eerste indrukke van Kiwis

Oor die algemeen is hulle is eenvoudige mense met 'n obsessie vir goeie maniere. Mens word altyd vriendelik gegroet, op straat, in die winkelsentrum, by die motorhawe, orals waar jy kom. As hulle agterkom jy is van Suid-Afrika, praat hulle jou onder 'n bos in, nooit beledigend nie, meestal oor rugby en soms oor die toestande in SA. Ek het ook sommer met die intrapslag geleer om nie hard in Afrikaans te skinder nie, want orals is daar Suid-Afrikaners wat verstaan. Dit is verstommend om te sien hoeveel daar van ons mense reeds hier is. En daars duisende!


Geld wat stom is

Ons ou Randjie is maar bitter min werd. So het ek hier agtergekom. Maal alles hier met R5.50 (November 2008) en jy't 'n goeie idee wat dinge hier kos, maar as jy eers $ verdien maak dit weer die speelveld min of meer gelyk. Ek het nadat ek 4 dae hier was, sonder moeite en binne 15 minute 'n bankrekening geopen. Dit was pynloos. Die vriendelike dametjie het toe sommer ook, net om te wys sy is nie kwaad nie, vir my 'n spaar rekening ook geopen. Die het presies 15 sekondes geneem. Geen ongemaklike vrae nie. Geen verduideliking van hoe ek nou presies hierdie bankrekening wil gebruik en of ek 'n burger van NZ is, ens, ens. nie. Met sulke diens kan ek mos saamlewe. Daar is verskeie banke om van te kies. Dit hang maar af of jy van rooi, blou, geel of groen hou.

My bankkaart het ek binne 3 dae gekry, afgelewer in 'n koevertjie op die voorstoep van die huis, waar ek gewoon het. Nog iets waaraan 'n mens gewoond kan raak. Baie vreemd.

Hoe ry die Boere sit, sit so

As jy van motors hou gaan jy hier baljaar, ek was gelukkig en het 'n motor teen $12 per dag by 'n Suid-Afrikaner hier gehuur. Hier is baie motorhuur firmas met 'n reeks van motors en pryse per dag waarvan 'n mens kan kies. As jy braaf genoeg is kan jy sommer gou-gou een koop, dit neem ongeveer 20 min en jy kan die motor op huurkoop koop, en sommer die selfde dag nog daarmee huistoe gaan. So 'n kleintjie met 40000 km op, gaan vir $5000 - $7000. Lyk my hier is meer motorhandelaars in een dorpie of stad, as die hele Oos-Rand saam. Uitstekende kwaliteit teen lae pryse, ek hou daarvan. Natuurlik is daar ook jou duur Mercs, BM's ens. Dis in elkgeval maar min Kiwis wat die Super Blink motors ry. Hulle gaan meer vir die "Holdens", 4x4's en Japenese sedanmotors. Maar dis 'n ander storie op sy eie.

Ek het in my lewe nog nooit soveel 4x4's, en die groot verskeidenheid daarvan, op een plek bymekaar gesien nie.'n Goeie lae km 2000 - 2004 4x4, kos hier in die omgewing van $18000 - $25000. Geen wonder dat die meeste Suid-Afrikaners wat hier aankom heel eerste sy 4x4rtjie gaan haal nie. Maar hoekom nie? Dis goedkoop en prakties. Hier het 'n mens so 'n ding nodig om die land ten volle te kan verken. Kinders word nie hier by die skool afgelaai met 'n R800 000+ se 4x4 nie. Neewat, meeste van hulle loop sommer, neem die bus of ry met die fiets. 'n vierwielaangedrewe voertuig is nie 'n status simbool in NZ nie.

Al lê die berge nog so blou

In my 2e week het ek die pad na die Suide toe aangedurf. Ek wou meer weet, met meer Kiwis praat, kyk hoe hulle dorpe en stede lyk en sien hoe hulle dit doen. Ek is deur Taupo, met Lake Taupo wat so groot is, dat dit glo van die maan gesien kan word (Weet nie of dit waar is nie). 100km van punt tot punt, dit is 'n krater, die oorblyfsels van 'n vulkaan wat donkie jare gelede van sy kop af geraak het. Ek moet se dat ek op 'n latere stadium golwe op hierdie binnelandse meer gesien het wat enige surfer se droom sal wees



Verder deur 'The Desert Road', (amper iets soos die Karoo op 'n kleiner skaal) wat gelee is al langs 2 groot Noord Eiland vulkane; Mt Tongariro en Mt Ngauruhoe 'n Groot ski-oord vakansie aantreklikheid hier in die winter.

Ek is oor berge wat die Hexrivierpas na kinderspeletjies laat lyk, deur valeie en klowe wat Meiringspoort kan oorskadu, en verby wynplase by die gros. Pragtige seedorpies en stede tot by Wellington. Wellington lyk baie soos Kaapstad, maar effe winderig die tyd van die jaar. Dis nou waar jy die ferry na die Suid-Eiland kan neem. Steeds is alles groen, al die soorte groen wat jy kan kry met 'n paar skakeurings van groen wat ek nog nooit gesien het nie.



Die hele land is vol boomvarings so groot dat dit eintlik 'n sonde is. Daars ongerepte woude, stoompies, groot riviere majestieuse berge, vlaktes, strande met pikswart sand wat glinster in die sonskyn, onwelreukende geisers, spierwit strande en sneeuvelde, noem maar op en dit is hier.



En dit is mooi. Dit is rustig. Dit is skoon. Dit is veilig. Dis 'n 1e wêreld land. Dit is oop vir almal.

Ek het amper vergeet, daar is ook 45 miljoen skape en 9 miljoen beeste hier. Iemand het nou die dag 'n 'Fart Tax' voorgestel, omdat hy kwansuis reken dat as elke skaap elke dag een-keer 'fart', daar ernistige lugbesoedeling plaasvind. Nouja. Die wet is nog nie goedgekeur nie.

Die Kiwis is erg fanaties oor die bewaring van hulle natuur. Green Peace het nie verniet hier ontstaan nie. Vanaf Wellington neem ek die pad na Napier, aan tot by Gisborne, nog meer wynplase orals te sien. Hier kom die son eerste op, en die wereld se nuwe dag begin hier volgens die internasionale tydslyn. Vanaf Gisborne neem ek die pad Noord na Whakatane (Dit word uitgespreek as Fakatane. Die 'Wh' word 'n 'F').

Terug na Taupo en stop weer in Cambridge na 5 dae. Ek het 'n wye sirkel deur die Noord eiland gery, met baie plaaslike inwoners gesels, in Motor-ins gebly en die kans gehad om 'n beter idee van NZ se mense te vorm.

Auckland - City of Sails

As 'n mens van die stadslewe hou dan is Auckland seker die beste plek om in te speel. Ek het hier gedurende my eerste besoek aan NZ vir 'n paar onderhoude gegaan. Daar woon ongeveer 1.3 miljoen mense in Auckland en omliggende areas. Dis 'n pragtige stad en elders op hierdie webwerf praat ek meer oor die stad, sy mense en bedrywighede.




LSD Gevolgtrekkings

1. Vreemde kultuur en taal. Bv: Die nuus om 7 word nie in Afrikaans aangebied nie. Leon Schuster se liedjies word nie by die Rugbystadiums gespeel nie. Rapport is nie op Sondae beskikbaar nie. Jy gaan 8 ure+ per dag in Engels lewe.
2. 'n Mens betaal baie ZAR vir een $ (Ongeveer R5.50 vir 1 NZ$)
3. Spoedgrens op die ooppad is 100kmpu en in die stede en dorpe 50kmpu.
4. Daar is geen leeus, olifante en ander wilde diere in NZ nie. Om die waarheid te se, daars ook geen slange of reptiele hier nie.
5. Hardekool hout is nerens te koop nie en 'n mens sal dit maar self moet invoer.Mense hier braai met gas implimente instede van charcoal en hout.
6. Geen motoroppassers by die Sentrums nie. Ook geen vensterwassers en smouse op die hoeke van groot kruisings nie.
7. Huisbediendes verdien 'n minimum loon van ongeveer R120 per uur en is redelik skaars of heeltemal afwesig. So 'n mens moet maar jou eie huis skoonmaak, stryk, skottelgoed was, grassny ens.
8. Doringdraad en gelektrifiseerde omheings by huise bestaan nie.
9. Famielie en vriende in SA is 10+ ure agter die tyd, aan die anderkant van die wereld, middernag oproepe van SA gaan 'n mens ietwat pla.
10. Die bestuurvernuf van die mense hier laat veel te wense oor.
11. Daar is ver te veel keuses wat gemaak moet word as 'n mens inkopies by 'n supermark gaan doen, en dit neem gewoonlik baie tyd in beslag.
12. 'n Mens moet van voor af 'n nuwe begin maak, en kan nie jou huis, honde, budgie, motors en bediendes oplaai en net so hier kom aflaai nie.
13. Baie vrouens sny die gras hier.
14. Baie Polisiestasies is nie oop op 'n naweek nie, hulle wil ook rus.
15. Bankbestuurders kom besoek jou by die huis as jy iets nodig het en dit veroorsaak probleme met die skottelgoedwassery agterna.

LSD - Positiewe aspekte

New Zealand is baie makliker om in te kom as Australie. As jy eers PR in New Zealand het, is dit dan weer makliker om na Australie te gaan! Ouderdom beperking vir immigrasie (PR) is 55 jaar vir New Zealand en 45 jaar vir Australie.

Elkeen het sy eie manier van dink en doen, ek is terug hier, baie gelukking saam met my gesin, familie en vriende, ons almal het nou PR, en werk en bly baie lekker! New Zealand is 'n baie veilige 1e wêreld land, met 'n baie goeie infrastruktuur, vriendelike mense, behep met die famielie, kinders en met baie, baie potensiaal.

Kom kyk self